DVD-RAM

'n DVD-RAM-skyf in sy plastiekhuls

DVD-RAM (Engels: Digital Versatile Disc - Random Access Memory) is een van die DVD-formate wat deur die DVD-Forum as amptelike DVD-opneemmedia bestem is. Dit was eintlik net vir gebruik in rekenaar-DVD-skrywers goedgekeur maar word onder meer deur Panasonic, JVC en Toshiba ook vir gebruik in tuisteaterstelsels aangebied. In 2004 het dit die gewildste formaat vir TV-opnames in Japan en Noord-Amerika geword.

In vergelyking met ander DVD-formate, wat op die opnemer-mark meeding, bied DVD-RAM voordele soos die moontlikheid om tot 100 000 keer daarop te skryf, data van verskillende bronne (soos rekenaars, DVD-RAM-opnemers en DVD-RAM-videokameras) op een skyf te meng, die skyf het 'n eenvoudige struktuur wat dit soos 'n hardeskyf laat funksioneer en dit is moontlik om een program wat reeds gestoor is te kyk terwyl 'n ander op dieselfde skyf opgeneem word. Laasgenoemde funksie behels ook tydverskuiwing (Engels: time shift) - die gewildste kenmerk van die formaat: TV-kykers kan 'n TV-program wat nog opgeneem word gelyktydig van die begin af volg. Tweesydige DVD-RAM-skywe kan tot 9,4 GB data stoor.

In 2004 het Panasonic een van die mees gesofistikeerde DVD-RAM-opnemers op die Japanse, Europese en Amerikaanse markte aangebied wat met 'n addisionele hardeskyf van 400 GB en DVD-Oudio-ses-kanaal-weergawe spog.

DVD-RAM-skywe is met of sonder plastiekhulse beskikbaar; die gebruik van 'n huls verseker dat die skyf in 'n puik toestand sonder vingerafdrukke en skrapies bewaar kan word. Die huls kan geopen word om die skyf byvoorbeeld in 'n gewone DVD-RAM-aandrywer te gebruik.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search